Trotste tradisies sedert 1896 | Proud traditions since 1896

Chrizelle gekies as Semi-finalis deur FAK

Die FAK het in Augustus vanjaar in samewerking met Allegretto Eisteddfod ʼn digitale toneelfees kompetisie geloods vir hoërskole om hul tienertoneel bloot te stel deur sodoende nog ʼn optreevlak vir toneel te skep. Leerders kon in die afdeling ʼn monoloog inskryf en juffrou Lesley Swart van Hoërskool Upington het ʼn stuk van 6 minute geskryf wat deur Chrizelle Strydom opgevoer is. Die stuk getiteld “Wegbreek” speel af waar ʼn tiener in haar kamer voor haar rekenaar tydens die grendelstaat met haar vriendin in ʼn “video call” gesels. Juffrou Swart het ook ʼn gedig wat deur Chrizelle self geskryf is en vanjaar in die Poort Tiener literêre bundel opgeneem is, in die regie ingewerk.

Chrizelle is as een van die 7 nasionale semi-finaliste aangewys wat later vanjaar teen mekaar gaan optree om sodoende die wenner aan te wys. Die organiseerder het gesê om die “semi-finaal te haal is ʼn briljante prestasie aangesien daar soveel inskrywings was om van uit te kies. Edrien Erasmas, een van die beoordelaars en bekende aktrise het Chrizelle se optrede as “uitstekende karakterisering met lieflike energie” beskryf. Sy het ook dat hierdie paar se skryfwerk as “uitstekend” bestempel.

Phillru van Achterberg, die hoofbeoordelaar en bekende verhoogakteur, het Chrizelle gelukgewens met haar “natuurlike toneelspel” en gesê die teks het haar toegelaat om natuurlike en realistiese toneelspel te lewer en dat dit presies was wat die paneel van beoordelaars gesoek het.

Kopiereg © 2020. Hoërskool Upington High School. Alle Regte Voorbehou.

Webwerf Ontwerp en Onderhou deur Web Ateljee