Trotste tradisies sedert 1896 | Proud traditions since 1896

Ds. Gert Janse van Rensburg, oud Uppies, ploeg terug in sy Alma Mater

Ds. Gert Janse van Rensburg het onlangs aan Hoërskool Upington `n boek geskenk wat hy op die rype ouderdom van 88 jaar self geskryf het. Hy het gevoel dat dit nou `n gepaste tyd is om die boek te oorhandig aangesien Hoërskool Upington vanjaar 125 jaar oud is en hy presies 70 jaar gelede, toe HU nog in sy “tienerskoene” was, in Matriek was.

Ds. Gert het sy skoolloopbaan op Pofadder begin en in 1951 in Upington afgesluit. Hy het sy verbintenis met Hoërskool Upington as “`n groot voorreg” beskryf en 3 van sy susters en 2 van sy kinders was ook Uppies.

Hy het dié boek, Met een voet in die Bybel, geskryf omdat hy lief is vir die Bybel, maar ook lief is vir sy taal… Afrikaans. Hierdie liefde vir Afrikaans het hy by oom Jan Coetzee gekry. Hierdie Afrikaanse onderwyser, en stoere patriot vir Afrikaans, het op `n besonderse manier Afrikaans by hul as leerders ingeskerp en Ds. Gert kyk met waardering terug na die tydperk wat hy onder oom Jan Coetzee se hande kon deurloop.

Met die gee van hierdie boek, spreek Ds. Gert die Here se seen toe op Hoërskool Upington, die skoolhoof, personeel en skoliere van Hoërskool Upington.

Mag die gebruik van dié boek in die Afrikaanse klasse vir ons leerders van vandag nog net so baie plesier verskaf soos wat dit vir Ds. Gert `n plesier was om dit te skryf.

Ds. Gert, jou boek sal `n ereplekkie hê in die HU-familiehuis. Ons sal probeer om u naam hoog te hou… al moet ons * Adam en Eva se skoene aantrek en met die Apostelperde reis om hierdie oulike inhoud aan ons kinders oor te dra!

Hierdie boek handel oor 800 Afrikaanse uitdrukkings wat op een of ander manier na die Bybel herlei kan word.

Heerlike, interessante leesgenot!

Geskryf: Madelein May

*Adam en Eva se skoene aantrek = kaalvoet loop

*Apostelperde reis = te voet loop

Uittreksels uit “Met een voet in die Bybel”

 

Kopiereg © 2021. Hoërskool Upington High School. Alle Regte Voorbehou.

Webwerf Ontwerp en Onderhou deur Web Ateljee